Seniors in Aksie by Ons Tuis: Louis Trichardt

Seniors lê Solidariteit Helpende Hand, en in die besonder Irene-tak, baie na aan die hart. Ons passie om seniors met die Seniors in Aksie-program te laat “aantree” en nie “aftree” nie, is baie suksesvol ontvang by Ons Tuis Louis Trichardt. Seniors in Aksie is gebaseer op Senior Mind Moves en fokus daarop om die verouderingsproses te vertraag deur die sintuie, brein en spiere te stimuleer met eenvoudige dog effektiewe fisiese bewegings.

Seniors in Aksie het ongetwyfeld ‘n holistiese lewenskwaliteit en ‘n blywende positiwiteit gevestig by elkeen wat deelgeneem het. Dit was werklik inspirerend om waar te neem hoe 14 seniors, wat in sommige gevalle al jare lank gemeenskaplike spasies deel maar steeds slegs mekaar se name ken, na mekaar toe begin leef en ‘n onlosmaakbare band van gemeenskap, opregte belangstelling, vriendskap, deernis en omgee vestig. Die deelnemers het entoesiasties aan elke aspek van die aanbiedinge deelgeneem en mekaar goedig aangemoedig en aangeprys met sekere bewegings. Die program het ook lewe gegee aan hulle kreatiwiteit en strek die hele aftree-oord tot voordeel.

Vele deelnemers getuig dat hulle baie energie het en meer mobiel is vandat hulle aan Seniors in Aksie begin deelneem het. Hulle beweeg met veel groter vrymoedigheid rond as gevolg van die positiewe denkwyse en selfmotivering wat deur die program bevorder word.

‘n Hele paar deelnemers sê Seniors in Aksie het hulle gehelp het om uiteindelik weg te kyk van hul emosionele uitdagings en met ‘n splinternuwe uitkyk te fokus op wat hulle nou het. Hulle het opnuut bewus geword daarvan dat “… ek baie het om voor te leef en dankbaar te wees.” Dié positiewe gesindheid het uiteraard ook ‘n positiewe effek op hulle fisiese gesondheid.

Hierdie sukses is die direkte gevolg van Helpende Hand se toewyding om Seniors in Aksie as ‘n lewenswyse by Louis Trichardt te vestig. Dit word bevestig deur die feit dat die deelnemers die program nou self ten minste een keer ‘n week aanbied. Hulle betrek ook ander inwoners en vestig sodoende die filosofie van hierdie nuwe lewenslus as ‘n instelling. Dit is werklik verblydend om te sien dat hulle dit net so opgewonde op die ritme van lekker lewendige musiek bly doen as aan die begin.

Louis Trichardt is Ons Tuis-baanbrekers en hulle sukses is ‘n uitstekende dividend vir Helpende Hand se belegging in die vestiging van Seniors in Aksie! Irene Tak is werklik dankbaar vir die voorreg om by Ons Tuis Louis Trichardt betrokke te wees en vir die seën van lewenswyshede wat ons daar leer en die onbaatsugtige liefde en warmte wat ons daar ontvang!